BRONARTIKEL
Nuwe reëls vir tenders gaan korruptes laat les opsê, Netwerk24, 25 April 2026
Piet Croucamp voer aan dat die Nasionale Tesourie se nuwe konsepregulasies vir openbare verkryging ’n belangrike en ambisieuse poging is om korrupsie in die staat se tender- en verskaffingskettings te beperk. Hy wys daarop dat die regulasies sterker toesig, groter deursigtigheid, duideliker rolverdeling, uitsluitingsmaatreëls teen onbetroubare tenderaars en nuwe vereistes vir transformasie en plaaslike verkryging bevat. Hy waarsku egter ook dat die regulasies nie ’n towerstaf is nie en dat sommige bepalings waarskynlik praktiese, ekonomiese en regsgedinge-uitdagings sal meebring.
Lees die oorspronklike artikel hier: Artikel
Lees VOICE se reaksie hier: ARTIKEL
AGTERGROND
Op 25 April 2026 het Piet Croucamp op Netwerk24 geskryf oor die Nasionale Tesourie se konsepregulasies vir openbare verkryging en die verwagting dat nuwe reëls tenderkorrupsie kan help bekamp.
VOICE verwelkom enige poging om openbare verkryging meer deursigtig, verantwoordbaar en korrupsiebestand te maak. Ons standpunt is egter dat Suid-Afrika se kernprobleem nie bloot die afwesigheid van regulasies is nie, maar die gebrekkige, inkonsekwente en dikwels polities beïnvloede toepassing van bestaande raamwerke.
Hieronder volg VOICE se reaksie.
VOICE SE KOMMENTAAR
In ’n meningstuk (Rapport, 26 April 2026), getitel “Nuwe tenders gaan korruptes laat les opsê”, beskryf Piet Croucamp die Nasionale Tesourie se nuwe konsepregulasies as ’n dapper poging om korrupsie in openbare verkryging te bekamp. Hy wys veral op strenger prosesse van toesig, die moontlike uitsluiting van onbetroubare tenderaars, duideliker afbakening van rolle, transformasie deur bemagtiging en ’n voorkeur vir plaaslik vervaardigde produkte.
Op papier bied die regulasies ’n ambisieuse raamwerk. In die praktyk is baie van hierdie beginsels egter reeds in bestaande regulasies, beleide en prosesse vervat. Die uitdaging is nie die afwesigheid van reëls nie, maar die konsekwente toepassing daarvan. Bestaande raamwerke vir die bestuur van die voorsienings- en verkrygingskanaal (SCM) maak voorsiening vir deeglike beheer oor en die deursigtigheid van tenderprosesse. Die implementering daarvan is power.
Politieke invloede en veral kaderontplooiing ondermyn die doeltreffende werking van die stelsels. Die wyse waarop Jacob Zuma die Gupta familie by staatsinstellings betrek het, dui op risiko’s wat nie op gebrekkige prosesse en regulatoriese raamwerke dui nie. Dit dui eerder op die ANC se lukrake omgang met skoon regering.
Onder Cyril Ramaphosa het verskeie senior ministers, waaronder Zweli Mkhize, Zizi Kodwa, Senzo Mchunu en Nosiviwe Mapisa-Nqakula, hul poste te midde van ondersoeke, of bewerings van wanadministrasie of korrupsie, verlaat. Hierdie gevalle illustreer die voortdurende spanning tussen regulatoriese raamwerke en praktyk.
Die geskiedenis van ondersoeke, insluitend die Zondo kommissie, toon dat omvattende en waterdigte bevindings nie noodwendig geïmplementeer sal word nie. Dit is dus te betwyfel of nuwe regulasies alleen die sistemiese voorkoms van korrupsie met tenders sal oplos.
Maatreëls om tenderbedrog hok te slaan, is diep gewortel in die Grondwet en ‘n wetgewende raamwerk wat die “Public Finance Management Act” (PFMA) en die Municipal Finance Management Act (MFMA) insluit; asook erkende rekeningkundige standaarde (GRAP). In beginsel behoort nakoming van hierdie wette en standaarde die finansiële integriteit van die staat en sy instellings te bevorder.
Daarbenewens is voorsieningskanaalbestuur (VKB)-prosesse doelbewus gestruktureer om meervoudige lae van toesig te verseker. Liggame soos bod-evalueringskomitees, bod-toekenningskomitees, interne ouditfunksies, eksterne oudit- en prestasiekomitees, asook openbare rekeninge-komitees, is ontwerp om kontroles ten opsigte van prosesse en strukture te bied en as dit reg aangewend word sal korrupsie sinvol beveg word.
Die volgehoue voorkoms van tender-onreëlmatighede dui egter daarop dat die uitdaging nie in die afwesigheid van regulering lê nie, maar in veral die ANC se ignorering daarvan. Institusionele swakhede, politieke invloede en gebrekkige aanspreeklikheid is die ANC se brood en botter en ondermyn die doeltreffendheid van die stelsels.
‘n Verdere knelpunt is dat die interne ouditfunksies dikwels aan dieselfde uitvoerende strukture rapporteer as wat hulle moet monitor. In die praktyk kan faktore soos organisatoriese druk, werksonsekerheid en beperkte onafhanklikheid daartoe lei dat interne ouditeurs onwillig is om onreëlmatighede aan te spreek.
Die Munisipale Openbare Rekeninge-komitee (MPAC) is, in die regte hande, ’n kragtige meganisme om finansiële bestuur te monitor, onreëlmatige besteding te ondersoek en die uitvoerende gesag tot verantwoording te roep. Vir geloofwaardige toesig behoort die voorsitter verkieslik uit die opposisie aangewys te word. In die praktyk word hierdie beginsel egter verswak omdat die meerderheidsparty ’n oorheersende rol speel en dus die komitee se onafhanklikheid en doeltreffendheid beperk. Die kernprobleem is dus nie die struktuur nie, maar die toepassing daarvan.
Die strewe na deursigtige en skoon tenderbestuur is reeds in bestaande wetgewing vervat. Indien hierdie beginsels konsekwent toegepas word, kan nuwe regulasies slegs ’n aanvullende rol speel. Kritici meen egter dat die klem op nuwe reëls die fokus op implementerings-uitdagings en die uitroei van kaderontplooiing en fiskusroof wegneem.
Teen hierdie agtergrond moet oorweeg word om tenderprosesse meer onafhanklik te maak en dit in die hande van eksterne gesagte te plaas. Dit behels onder andere die oorweging van ’n versterkte rol vir die Ouditeur-Generaal of selfs die skep van ’n gespesialiseerde nasionale tendergesag.
Die verskuiwing van tenderprosesse na eksterne gesagte sal die konsekwente toepassing van bestaande prosesse vir die bestuur van voorsienings- en toekenningskanale meer deursigtig en minder korrupsie-vatbaar maak.
Hoewel Piet Croucamp optimisme uitspreek oor die rol van nuwe regulasies, bly die sentrale vraag of regulatoriese aanpassings alleen voldoende sal wees. Sonder sterker en meer onafhanklike toepassing van bestaande reëls, is dit onseker of enige regulatoriese raamwerk op sigself korrupsie wesenlik kan beperk.
Dennis Ras, Hoof Uitvorende Beampte, VOICE (dennis@voice-it.co.za)
